Stille Oseaan

Die Aarde se vyf Oseane
Die Stille Oseaan
Die eksklusiewe ekonomiese sone in die Stille en Oseaan
Die Stille Oseaan se Ring van Vuur
Mikronesië, Melanesië en Polinesië
Sononder oor die Stille Oseaan, soos gesien vanaf die Internasionale Ruimtestasie
Nasa-Satellietbeeld van die Stille Oseaan
Reliëf van die oseaanbodem, weskant
Reliëf van die oseaanbodem, ooskant
In die omgewing van Nieu-Seeland neem die seebodem onreëlmatige vorms aan

Die Stille Oseaan is die grootste oseaan ter wêreld. Dit is ongeveer 165 250 000 vierkante kilometer in oppervlak en strek van die Noordpool tot die Suidpool tussen Noord- en Suid-Amerika in die ooste, en Asië en Oseanië in die weste.

Die oseaan beslaan ongeveer 'n derde van die aarde se oppervlak en byna die helfte van die wateroppervlak. In die suide staan dit as die Suidsee bekend. Vanweë die enorme uitgestrektheid van die oseaan word oppervlakstrominge beïnvloed deur winde wat dwarsdeur die jaar in 'n bestendige rigting waai, byvoorbeeld die noord- en die suidoospassaat tussen die twee keerkringe en die westewinde by hoër breedtegrade.

Sowel die temperatuursverandering van die oppervlakwater as die vertikale verandering van temperatuur en soutgehalte van die dieptewater verloop reëlmatig. Hoewel die meeste van die handelsroetes oor die oseaan teenswoordig in die Noordelike Halfrond lê, behoort die swaartepunt mettertyd na die Suidelike Halfrond te verskuif namate die lande in Suidoos-Asië en Suid-Amerika ontwikkel en die verkeer daarheen toeneem.

Die noordelike grens van die Stille Oseaan (of Groot Oseaan) word deur die noordoostelikste en noordwestelikste kuste van die Asiatiese en die Noord-Amerikaanse vasteland gevorm – die kontinente word deur die Bering-straat en die Tsjoektsji-see geskei. Die oostelike grens van die oseaan bestaan uit die weskuste van Noord – en Suid- Amerika en 'n lyn oor die kortste afstand tussen Vuurland (die suidelikste punt van Suid-Amerika) en die Suid-Shetland-eilande van Antarktika oor die Drakedeurgang (Estrecho de Drake). Antarktika vorm die suidelike grens van die oseaan, terwyl die westelike grens met die Indiese Oseaan gevorm word deur die Indonesiese argipel, Australië en die meridiaan by 147° O, wat oor die Bass-straat van Australië na Tasmanië strek.

Die ooskus van Asië vorm die noordwestelike grens. Oor die suidwestelike grens bestaan daar egter meningsverskil – sommige navorsers beskou die Timor-see, die Alfoere-see, die Straat van Malakka en die Bass-straat as deel van die Stille Oseaan, en ander nie. Met uitsondering van die fjords van Vuurland en Alaska is die kuste van die Stille Oseaan reëlmatig. Die berge loop ewewydig aan die kus en rand- en binnesee kom slegs in die weste voor.

Laasgenoemde is van noord na suid die Bering-see, die See van Ochotsk, die Japanse See, die Geel See, die Oos-Chinese See en die Suid-Chinese See. Eilandgroepe skei die watermassas van die res van die Stille Oseaan. Sonder sy rand- en binnesee het die Stille Oseaan 'n oppervlakte van 166 miljoen km2 en met inbegrip daarvan beslaan dit 180 miljoen km2 – meer as die totale landoppervlakte van die aarde.


Developed by StudentB